Centurion en Tukkies pak mekaar in Carltonbeker eindstryd

Die manne wat Centurion se punte aangeteken het is, wan links, Stanley Twiname, Gaybrin Smith, Kurtley Brinkhuis, Juan Pike en Callie Barnard. Foto: Johanna de Vos

Centurion rugbyklub het vir die eerste keer in 17 jaar weer daarin geslaag om die finaal van die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga te haal, maar op Saterdag 13 Augustus kom hulle in die eindstryd te staan teen Tukkies, die verdedigende kampioen en die span wat hulle al verskeie keer in die verlede in uitkloprondtes van dié toernooi getroef het.

Centurion tel nou al byna 20 jaar onder die Blou Bulle se sterkste klubs en veral die afgelope dekade was hulle een van die mees standhoudende kragte in die unie se top liga. Tog het hulle ’n swak rekord gehad in uitspeelstryde. Hulle het byvoorbeeld die afgelope tien jaar reeds ses keer die halfeindrondte gehaal, maar kon nooit daarin slaag om na die eindstryd deur te dring nie.

Intussen was hulle reeds twee keer die kampioen in die Assupol Klubreeks én hulle het die Blou Bulle in 2014 in die nasionale Gemeenskapsbeker toernooi vir oopklubs verteenwoordig.

* Die afgelope Saterdag het Centurion onder die leiding van hul nuwe afrigters en bestuur met een van hul ou vyande, Pretoria Polisie, afgereken om vir die eerste keer sedert 1999 weer vir ’n Carltonbeker eindstryd te kwalifiseer.  Die eindtelling van 30-20 vly eintlik die Bobbies, aangesien Centurion se skoppers net in die eerste helfte 14 punte met redelike maklike stelskoppe verbrou het.

Die afrigtingspan van Centurion, Riaan Brand en Marius Scholtz, moet gekomplimenteer word vir hul puik wedstrydplan teen Polisie, wat as die gunsteling op die veld gedraf het. Die keuse van Stanley Twiname op losskakel was ook ’n netjiese strategiese skuif, want dié talentvolle man het sy beste wedstryd in ’n lang tyd gespeel. Agter ’n hardwerkende pak voorspelers het hy die spel dikteer en sy tweestryd met die gewese Curriebeker speler, Dillon Laubscher, maklik gewen.

Polisie was ongelukkig om hul ervare skrumskakel en planmaker, Hendrik van der Nest, vroeg in die wedstryd te verloor ná ’n harde stamp teen die kop. Hulle het enduit geveg en die laaste kwart van die wedstryd oorheers deur drie onbeantwoorde drieë te druk.  Dit was egter nie genoeg om die agterstand uit te wis nie en Centurion was uiteindelik welverdiende oorwinnaars met vier drieë teen drie.

Tukkies se puntemakers in die halfeindstryd was, van links, Willie Engelbrecht, Riaan Britz, Marius Oosthuizen, Jaco Snyman en WJ Strydom.  Foto: Johanna de Vos

Tukkies se puntemakers in die halfeindstryd was, van links, Willie Engelbrecht, Riaan Britz, Marius Oosthuizen, Jaco Snyman en WJ Strydom.
Foto: Johanna de Vos

* Die tweede halfeindstryd tussen Tukkies en Naka Bulle was teleurstellend, uit die oogpunt van almal wat ’n klipharde uitspeelwedstryd verwag het. Tukkies het die wedstryd maklik met 60-14 gewen.

Die feit dat Naka Bulle se liga-bepalings reeds op 2 Julie afgehandel was en dat dié span dus altyd sou sukkel om wedstrydfiks te bly met ’n rusperiode van vier weke, het duidelik gewys. Teenoor hulle het Tukkies intussen aan die Universiteite Sport SA (USSA) toernooi deelgeneem én daarna moes hul Carlton ligaverpligtinge nog voltooi word. Die verskil tussen die twee spanne se wedstrydfiksheid en skerpheid kon duidelik gesien word.

Soos verwag het die manne van die Moot met ’n reuse poging begin en in die eerste 10 minute in Tukkies se kwartgebied geboer.  Na twintig minute was Naka Bulle se fut egter uit en daarna het die studente sake dikteer.

Tot Naka Bulle se krediet het hulle nooit gaan lê nie. Selfs nadat die effens oorhaastige skeidsregter twee van hul agterspelers binne vyf minute met geelkaarte van die veld gestuur het, het hulle aanhou veg en Tukkies kon ironies genoeg in die 15 minute waartydens Naka Bulle nie voltallig was nie, slegs een keer gaan druk.

Naka Bulle het self twee keer gaan druk in die tweede helfte, maar uiteindelik was Tukkies se spoed en vaardighede net te veel vir dié manne om al die gate toe te stop.

Tukkies se kliniese spel teen Naka Bulle moet hulle die gunsteling maak om die eindstryd op 13 Augustus te wen, maar soos almal weet is enigiets moontlik in ’n eindstryd.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptanorth pta_mootgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Centurion rugbyspan mik na nog ’n titel