Bloubul rugby by ’n deurslaggewende kruispad

Die Bulls het Saterdag op Loftus Versfeld slegs hul tweede oorwinning in vanjaar se SuperRugby toernooi behaal deur die Jaguares van Argentinië met 26-13 te klop.

Hoewel daar heelwat tekens van verbetering in Adriaan Strauss en sy manne se spel was, blyk dit dat bittermin ondersteuners van dié gewese kampioenspan werklik tevrede is met die situasie by Loftus Versfeld. Minder as 6000 ondersteuners het by Loftus Versfeld opgedaag om hul span te ondersteun.

Daar is min vertroue dat die huidige span werklik in ’n kampioenspan sal ontwikkel en ondersteuners eis nie net die afrigters se koppe nie, maar ook die bestuur van die Blou Bulle maatskappy, wat deur sommige woedende ondersteuners direk vir die span se gebrek aan prestasie oor die afgelope paar seisoene verantwoordelik gehou word.

Die seisoen raak boonop nie makliker vir die beleërde Bulls nie. Dié span het nog altyd ’n trotste tradisie gehad op hul tuisveld en sedert hul glorie-seisoene van 2009 en 2010 het hulle bitter selde op Loftus Versfeld verloor. Verlede seisoen, die eerste sedert Nollis Marais as hoofafrigter by Frans Ludeke oorgeneem het, het die Bulls met ’n jong en redelik onervare span algeheel negende op die punteleer geëindig, maar hulle het steeds net een tuiswedstryd op Loftus Versfeld verloor. Dit was teen ’n skitterende span van die Lions, wat uiteindelik tweede op die punteleer geëindig het en in die  eindstryd van die toernooi gespeel het.

Daar lê egter ’n bitter moeilike sewe weke voor vir Marais se span. Hulle speel eerskomende naweek tuis teen die Cheetahs, wat hulle vroeër hierdie seisoen reeds in Bloemfontein geklop het en om verskeie redes vanjaar bittergraag bo die Bulls sal wil eindig op die punteleer. Dan volg ’n loslootjie aan die einde van April en daarna wag die Crusaders (tuis), Highlanders (tuis) Lions (Ellispark) en Hurricanes (tuis) op die Bulls voor die kompetisie drie weke onderbreek word vir die Juniemaand reses waarin die toetsreeks tussen die Springbokke en Frankryk plaasvind.

As die SuperRugby toernooi voortgesit word in Julie, moet die Bulls Durban toe reis om die Sharks aan te vat, waarna die Kings en die Stormers in die laaste twee wedstryde op Loftus Versfeld kom kuier.

Ten spyte van Saterdag se oorwinning is Marais en sy span dus steeds onder reuse druk, want selfs by hul getrouste ondersteuners is daar nie veel hoop dat hulle ’n kans staan om enige van die Crusaders, Highlanders, Lions en Hurricanes in vier opeenvolgende weke te kan wen nie. Soos sake nou staan en met die vertonings tot dusver hierdie seisoen as verwysingsraamwerk, lyk dit of die Bulls slegs teen die Kings op 8 Julie ’n realistiese kans staan om te wen, wat beteken dat hulle die seisoen kan afsluit met drie oorwinnings en twaalf nederlae. Dit sal beteken dat hulle amptelik hul swakste seisoen sal beleef sedert die donker dae van 2002, toe die Bulls nie ’n enkele oorwinning kon behaal nie.

Die huidige seisoen is nog nie eens halfpad voltooi nie, maar die Bulls as SuperRugby franchise beleef waarskynlik tans hul grootste krisis sedert die rampspoedige seisoen van 2008. Daardie jaar, wat ook Frans Ludeke se eerste jaar as afrigter van die Bulls was, het hulle as verdedigende kampioen sewe van hul eerste nege wedstryde verloor. Net soos nou het die paviljoene leeggeloop en ondersteuners het geëis dat die koppe moes rol.

Destyds is daar laat in die seisoen, ná sewe nederlae in die eerste nege wedstryde, laer getrek en krisisvergaderings gehou. Uiteindelik was dit die spelers wat die hardste aangespreek is. Veral senior spelers is vasgevat, want dinge het gebeur wat die gevolg gehad het dat die Bulls nie ’n gelukkige span was tot op daardie stadium nie.

Die ommekeer wat daarna plaasgevind het, is vandag nog een van die merkwaardigste verhale in die geskiedenis van plaaslike rugby. Ná ’n nederlaag van 22-50 teen die Hurricanes het die Bulls die seisoen afgesluit met vier agtereenvolgende oorwinnings oor die Highlanders, Waratahs, Brumbies en Cheetahs.

Sedert daardie week in middel April 2008 (die SuperRugby toernooi het destyds nog teen einde Mei klaargemaak) het die Bulls 20 tuiswedstryde agtereenvolgens gewen – 18 op Loftus Versfeld en twee op die Orlando Stadion in Soweto. Hulle het in 2009 en 2010 bo aan die punteleer geëindig en elke keer die toernooi gewen.

Die les van 2008 is dus dat geen krisis uitgesorteer kan word as daar nie algehele eerlikheid is oor die kern van die probleem nie. ’n Probleem kan nie opgelos word as die oorsaak daarvan aanhoudend ontken word nie.

Die groot vraag is nou wat die kern van die huidige span se probleem is. Is die Bulls van 2017 ’n gelukkige span? Op papier is die huidige span iets besonders. Daar is ’n goeie mengsel van ervaring en belowende jong spelers. Die afgelope Saterdag se beginspan het immers nege Springbokke bevat, terwyl nog twee van die reserwebank af gespeel het. Dus, niks fout met die spelers nie. Om te kla oor al die talent wat die Bulls die afgelope jare verloor het, is irrelevant. Feit is dat daar tans genoeg talent op Loftus Versfeld is om met enige span in SuperRugby te kan kompeteer. Die enigste ware probleem in die huidige span is die gebrek aan ’n kwaliteit baljagter, maar ter versagting van die bestuur kan gesê word dat die noodlot daar ’n rol gespeel het. Drie top baljagters, Shaun Adendorff (potensieel een van die bestes in die kompetisie), Roelof Smit en die onderskatte Ruan Steenkamp is almal beseer.

Daar is natuurlik skielik ’n koor van ondersteuners wat Nollis Marais se kop eis. Die vraag aan diesulkes is, wie anders? Marais het homself bewys as goeie afrigter. Hy het sy skoolgeld betaal en op elke vlak waar hy tot dusver afgerig het (skole, Carltonbeker, Varsitybeker, provinsiaal o.21), het hy bekers gewen of ten minste ’n einstryd gehaal (Curriebeker 2016).

Watter ander afrigter in is daar tans in Suid-Afrika beskikbaar met ’n CV wat met Marais kan kompeteer? Die naam van Heyneke Meyer word natuurlik gereeld genoem. Wat vergeet word is dat Meyer self die argitek was van die huidige strukture op Loftus Versfeld. Hy het Marais en die grootste deel van die huidige bestuurspan rondom hom met die hand uitgesoek om die Blou Bulle in ’n nuwe era te lei voordat hy Loftus Versfeld in 2012 verlaat het om die Springbokafrigter te word.

Barend van Graan as Hoof Uitvoerdende Beampte loop ook erg deur onder die giftonge van baie ondersteuners. Wat hierdie mense egter vergeet is dat Van Graan deel was van die opbou van die Bulls as die suksesvolste SuperRugby franchise in Suid-Afrika. Hy is een van die mees ervare rugby-administrateurs in die land en hy word reg oor die rugbywêreld gerespekteer en as mentor vir baie rugby-administrateurs beskou. Van Graan was in 2008 een van die leiersfigure wat die krisissituasie aangespreek het en die omkeer van die Bulls kon bewerk. Is hierdie tipe ervaring nie juis broodnodig in die huidige krisis nie?

Om dus nou koppe te laat rol gaan geen waarborg lewer dat die Bulls se probleme opgelos gaan word nie. Om mense persoonlik aan te val en op openbare platvorms te vloek of te probeer verkleineer, is natuurlik ook onaanvaarbaar.

Dit beteken egter nie dat rolspelers soos Van Graan en Marais onaantasbaar moet wees nie. Ondersteuners, wat die deurslaggewende faktor is om die Bulls se toekoms te verseker, het alle reg om vrae te vra as hul span onderpresteer. Hulle het ook die reg om antwoorde te eis.

Verskeie faktore veroorsaak dat die huidige krisis waarskynlik moeiliker opgelos sal word as die vorige krisis in 2008. Die Bulls se bestuur en afrigtingspan sit met ’n uitdaging wat meer as net eerlike en reguit gesprekke gaan verg. Die uitdagings van rugby regoor Suid-Afrika het dramaties verander en die Bulls is geen uitsondering in hierdie verband nie. Oopkoppe en innoverende, realistiese denke gaan nodig wees om die uitdagings van rugby in Suid-Afrika te bowe te kom en kompeterend te bly op alle vlakke. Hierdie uitdagings sluit in die gesonde finansiële bestuur van rugby te midde van groeiende begrotings en krimpende borge in moeilike ekonomiese tye, asook politieke struikelblokke en die vestiging van werkbare strukture – vanaf skole- en klubvlak tot by die Springbokspan.

Die politieke situasie in Suid-Afrika en faktore soos die wisselkoers van die rand teen sterk wêreldgeldeenhede gaan nie gou verander nie. Daarom sal dit moeilik bly om top spelers se uittog na Europa, Japan en selfs Amerika te keer. Maar om ’n kompetisie soos die Curriebeker af te water of klubrugby te verwaarloos en Suid-Afrika se enorme potensiaal ten opsigte van rugbytalent daardeur te strem is natuurlik nie baie slim nie. Was dit nie juis die kwaliteit van ons klubrugby en die standaard van ons top plaaslike toernooi (Curriebeker) wat Suid-Afrika gehelp het om die isolasiejare te oorleef en sterk genoeg te kon wees om die wêreldbeker by ons eerste probeerslag in 1995 te wen nie?

Ondersteuners as belangrike vennoot om in gedagte te hou wanneer werkbare oplossings op alle vlakke gesoek word, moet natuurlik ook baie ernstiger opgeneem word as wat die geval die afgelope jare was.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptanorth pta_mootgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Bulls vang groot vis met aanstelling van John Mitchell

Thanx for your referral. We have no doubt your friends will love our newsletter as much as you!

Don't forget to verify your email.

SUBSCRIBE
to our free NEWSLETTER
!
SUBSCRIBE to our FREE newsletter.




SELECT your titles:

Centurion Rekord
Rekord East
Rekord Moot
Rekord North


Your details:


Your friends:

I didn't sign up for this
I'd like to see and read more... (Please indicate in comments section below)
I'm relocating (Please indicate where to)
Other