Garsfontein en Centurion uitgeskakel in VirSeker Beker halfeindstryde

Aksie uit Dinsdag se VirSeker Beker halfeindstryd tussen Garsfontein en Monument. Foto: Frans Lombard

Pretoria sal vir die eerste keer sedert 2013 nie ’n verteenwoordiger hê in die eindstryd van die Makro Skole-liga van die VirSeker Beker toernooi nie.

Beide Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Centurion is Dinsdagaand uitgeskakel in die onderskeie halfeindstryde. Centurion het in Nelspruit teen teen Hoërskool Nelspruit met 7-45 vasgeval, terwyl Hoërskool Monument vir Garsfontein op laasgenoemde se tuisveld in Pretoria met 31-24 geklop het.

Garsfontein het dié liga sedert 2014 oorheers. Hulle was die afgelope twee jaar die kampioen, terwyl hulle in 2014 in die eindstryd teen Nelspruit met een punt verloor het ná ’n verbroude doelskop in die laaste sekondes van die wedstryd.

Monument sal nou Saterdag na die Laeveld reis om Nelspruit op sy tuisveld aan te durf in die eindstryd. ’n Interessante aspek van hierdie wedstryd is dat die bekende skeidsregter, Jonathan Kaplan, die 31ste man op die veld gaan wees. Kaplan, wat twee jaar gelede as internasionale skeidsregter uitgetree het, tree nog periodiek op in skolerugby. Hy hou ook ’n internasionale rekord vir die 70 toetse waarin hy die fluitjie hanteer het.

* Die grootste deel van die wedstryd in Nelspruit was eenrigting verkeer in die guns van die tuisspan. Centurion het goed begin en selfs die eerste drie van die wedstryd gaan druk toe heelagter Kevin Osborne oorgeduik het, maar na sowat 20 minute het Nelspruit die oorhand gekry en die spel begin oorheers.

Teen rustyd was die Laevelders reeds met 18-7 voor en in die tweede skof het hulle die krane oopgedraai om nóg 27 onbeantwoorde punte aan te teken.

Centurion, wat vriend en vyand verras het deur die halfeindstryd vir die eerste keer in die skool se geskiedenis te haal, was net nie opgewasse teen Nelspruit se geoliede masjien nie. Die seuns van Centurion kan egter trots wees op dit wat hulle vanjaar bereik het. Hulle het veral die oë laat rek toe hulle die hoogaangeskrewe Dr. EG Jansen van Boksburg in die kwarteindrondte met ’n telling van 33-26 uitgeskakel het.

* In Pretoria is die halfeindstryd tussen Garsfontein en Monument in ’n byna stormsterk suidweste wind afgehandel. Monument het in die eerste helfte teen dié wind gesukkel, maar hul losskakel Jonathan Viljoen het sy tweestryd met Garsfontein se Barry Schoombee gewen toe hy dié wind in die tweede helfte goed gebruik het om die tuisspan op die agtervoet te hou. Schoombee het beïndruk met sy skopwerk pale toe in die gure weerstoestand, maar hy kon waarskynlik meer van die wind gebruik gemaak het in die eerste helfte.

Hoewel Garsfontein soms onder groot druk moes verdedig, het hulle tog daarin geslaag om tot diep in die tweede helfte voor te loop, veral danksy ’n onderskepdrie deur Kallie Calitz kort na die begin van die tweede skof.

Die tuisspan het ook te veel foute gemaak en kanse daarmee verbrou, maar Monnas moet hier die krediet kry vir die druk wat hulle op die verdedigende kampioen geplaas het. Die Wesranders het ook baie momentum bewerk met hul oorheersing van die vaste skrums in die tweede helfte.

Ten spyte van al hierdie voordeel aan Monnas het die Garsies baie karakter gewys en hulle kon met ’n bietjie geluk selfs die wedstryd gewen het. Monnas se plaasvervanger lokskopstut se wendrie was juis effens omstrede, nadat hy grond toe gebring is en toegelaat is om op te spring en oor die doellyn te duik sonder om ooit kontak met die bal te verbreek.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Bulls val vas teen Kings op Loftus Versfeld