Garsfontein maak skoonskip in Sewestoernooi

Garsfontein se o.17 sewesrugby span is as kampioen van hul afdeling aangewys by die EldoRugby 7’s, nadat Menlopark kort voor die eindstryd onttrek het. Foto: Frans Lombard

Die Hoërskool Garsfontein se sewesrugby spanne het Saterdag skoonskip gemaak by die EldoRugby 7’s toernooi, wat deur die Hoërskool Eldoraigne aangebied is.

Die toernooi was deel van die hoërskole sewesrugby reeks, waaraan skole vanoor die hele Gauteng deelneem.

Beide Garsfontein se o.15 en o.17 spanne is as kampioene by hierdie toernooi aangewys. Dertien skole het deelgeneem aan die toernooi, terwyl sommige van die sterker skole selfs twee spanne vir die onderskeie ouderdomsgroepe ingeskryf het.

Die Garsies se o.15’s het teen Helpmekaar van Johannesburg te staan gekom in die eindstryd, nadat hulle die uitdunrondtes onoorwonne afgesluit het. In die eindstryd het hulle die Johannesburgers met 26-14 geklop.

In die o.17 liga het Garsfontein se span amok gemaak en 133 punte in hul eerste drie wedstryde opgestapel, terwyl hulle slegs 7 punte afgestaan het. Daarna het hulle die tuisspan, Eldoraigne, met 28-7 in die halfeindronte geklop om deur te dring na die eindstryd.

Ongelukkig is die toeskouers die plesier van ’n eindstryd ontneem, nadat Menlopark onttrek het kort na hul oorwinning van 33-12 oor Midstream in die ander halfeindstryd.  Garsfontein is hierna as wenner van die o.17 liga aangewys sonder enige eindstryd aksie.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Pretorius brothers will be each other’s biggest supporters at World Student Games