Akademikus stel nuwe roman bekend

Frank Roos en Johann Rossouw.

’n Gewese inwoner van Centurion wat ‘n bekroonde akademikus en skrywer is, het onlangs sy nuwe roman Verwoerdburg by Hoërskool Eldoraigne bekend gestel. Johann Rossouw (43), wat in Verwoerdburgstad grootgeword het, woon nou in Bloemfontein. Hy het op 27 Februarie by die skool besoek afgelê om sy nuwe roman aan die publiek bekend te stel.

Rossouw het filosofie in Suid-Afrika, Frankryk en Australië gestudeer. Sy debuutroman, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel, het in 2007 by Zebra Press verskyn. Uit sy pen het artikels in verskeie Suid-Afrikaanse en buitelandse koerante en tydskrifte verskyn.

Van Februarie 2004 tot Augustus 2010 was hy die skrywer van die gewilde rubriek in Beeld, Glasoog. Deur sy studies en ervaring in Suid-Afrika en Frankryk, het Rossouw ’n kenner op die gebied van die filosofie van tegniek, politiek en kultuur geword. Rossouw gee nou klas in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy is ook bekend as ’n aktivis in die Afrikaanse openbare lewe en was ’n redaksielid van Fragmente (1998 tot 2005), lid van die werkkomitee van die Groep van 63 (2000 tot 2004) en betrokke by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge waar hy navorsings- en kommunikasiebeampte (2004 tot 2007) en uitvoerende beampte (2007 en 2008) was. In dié tydperk was hy ook redakteur van Die Vrye Afrikaan.

Rossouw het sy belangstelling en filosofiese idees oor die huidige politieke situasie verder geneem en onlangs sy nuutste roman Verwoerdburg vrygestel. Hy het die idee vir die roman die eerste keer in sy laat 20’s aan die einde van die Mandela-era gekry toe mense van sy geslag toenemend as rassisties en skuldbesmet uitgebeeld is, bloot omdat hulle in die 1980’s grootgeword het.

Gebore in 1970 het hy gevind dat sy tydgenote die ideale waarmee hulle grootgeword het in hul later jare begin bevraagteken het. “My geslag is eintlik ’n tussenin geslag. Ons was te jonk om grens toe te gaan en te oud om saam met die nuwe Suid-Afrika gebore te word. Ons is eintlik onsigbaar, maar ook onmisbaar,” het Rossouw gesê.

Hy is van mening dat sy geslag ’n noodsaaklike bydrae tot die samelewing en Afrikaanse kultuur gemaak het, maar ook in die middel van die turbinale politieke klimaat in Suid-Afrika vasgekeer is.

“Deur die roman het ek probeer sin te maak van hoe die ideale waarmee ons grootgemaak is soms ook verraai is deur diegene wat dit aan ons oorgedra het,” het Rossouw gesê.

In die roman het Rossouw terug in Afrikaners en Suid-Afrika se geskiedenis gedelf. Hy het die tyd en die plek van Verwoerdburg in P.W. Botha se Suid-Afrika (1980’s) deur middel van kulturele verwysings in die boek neergelê.

Rossouw is van mening dat die ideale waarmee sy generasie as kinders grootgeword het, die raamwerk gevorm het waarvolgens sommige mense hul lewe leef. Dit is egter in sekere situasies problematies. “Mense het dikwels vir sekuriteit gekies en dus nie noodwendig die beroepe wat hul eerste keuse was nie,” het hy gesê.

Die roman speel af in die aanloop tot die 20ste reünie van die Hoërskool Eldoraigne se klas van 1998 waartydens daar ontsteltenis is oor ’n roman wat gepubliseer is deur een van die klasmaats, die hoofkarakter, Jakes.

By ’n skoolreünie kom die lewe van ’n groep Suid-Afrikaners onder die loep. Jare ná demokrasie neem die land die nuwe bedeling in oënskou. Demokrasie het vryheid vir baie beteken, maar vir hierdie groep het dit ook beteken dat die lewe waarvoor hulle voorberei is, oornag verdwyn het.

In Jakes se roman het hy mense waarmee hy grootgeword het in fiktiewe karakters omskryf. Deur sy skryfproses het Jakes tot dieper insig oor dié mense en hul ideale en die feit dat hulle vertroude wêreld verdwyn het met die aanbreek van ’n nuwe politieke bedeling.

Die ontknoping van die boek los die leser met baie moontlikhede, maar die gevolgtrekking dat mense deur hul omgewing en gemeenskap gevorm word, kan afgelei word.

  AUTHOR
Laetitia Velleman

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Memorial service for Mamoepa