Lojale verset nou nodig

Die afgelope paar weke was daar weer roeringe oor Afrikaans, Afrikaners en Afrikanerskap.

Die SABC het gelukkig afgesien van ’n plan om Afrikaanse nuus en TV-programme van SABC2 na die veel kleiner SABC3 te skuif nadat ’n herrie hieroor ontketen het.

Indien die programme sou skuif sou dit beteken dat inwoners van afgeleë plattelandse gebiede en die hele Noord-Kaap, wat nie dekodeerders het nie, nie meer na Afrikaanse programme sou kon kyk nie, gelukkig blyk dat adverteerders hier ingeklim het.

Ook in die parlement het die EEF-party met Julius Malema aan die voorpunt, baie oor die Afrikaner en Afrikaans te sê gehad.

Hierdie koerant bewys week na week in sy berigte en redaksionele kommentaar die respek wat ons koester vir alle taal-, rasse- en kultuurgroepe in Pretoria en in Suid-Afrika.

Ons besef dat ons almal deel van dieselfde veelkleurige gestikte deken of kwilt vorm.

’n Kenmerk van so ’n veelkleurige gestikte deken lê juis daarin dat, terwyl iemand daaraan werk, dit nie veel sin maak nie.

Dit is eers wanneer hierdie deken voltooi is en ’n mens na die geheelbeeld kyk dat ’n mens die totale kunswerk en motief kan sien.

So ook met ’n nasie en ’n volk. Elke kleur of geur werk daagliks aan die groter geheel van nasieskap en elke individu van watter kultuur en rassegroep ook al gaan uiteindelik saamwerk om die groter geheel van Suid-Afrikanerskap te vorm.

Die geheelbeeld van die Suid-Afrikaanse deken word bepaal deur die korrekte individuele stekies en deurryg van dade en woorde van individue en groepe.

Die Afrikaner en sy stryd om sy identiteit in ons multikulturele land te behou en uit te leef, lê ons baie na aan die hart.

So ook dié van die Zulu, die Xhosa en elke ander taal- en belangegroep. Ons grondwet beskerm immers elke groep se reg tot selfhandhawing en gee aan elkeen sy eie ruimte om homself binne hierdie veelkleurige deken uit te leef en te handhaaf.

Die Taalmonument in die Paarl, is ’n monument vir ’n lewende taal en is nie, en sal nooit, ’n grafsteen van Afrikaans wees nie.

’n Argitek van Pretoria, Jan van Wijk, het destyds die wenontwerp vir die Taalmonument gedoen.

In sy soeke na ’n tema of motief, het hy na ’n definisie van Afrikaans begin soek.

In sy soeke het hy ook die groot digter, NP van Wyk Louw, geraadpleeg.

Louw het uit sy boek Vernuwing in die Prosa aangehaal.

“Louw skryf daar dat Afrikaans die taal is wat Wes-Europa en Afrika verbind. “Dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika. Hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hul vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”

Miskien is dit tyd dat die Afrikaner weer, soos in Louw se woorde, in ‘lojale verset’ kom teen diegene wat hom minag.

  AUTHOR
Fred Boshoff

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Lost and found