Ma sit rowers agterna

IMG_0005 (Mobile)

‘n Rooftog het helder oordag in ‘n jaagtog ontaard toe ‘n dapper ma van Faerie Glen drie vermeende rowers by haar huis probeer aankeer en hulle agternagesit het.

Enkele minute nadat Vanessa Badenhorst, ‘n ma van twee, haar kinders Dinsdagmiddag in hulle huis in Rembrandtstraat toegesluit en winkels toe gery het, het drie gewapende mans die voordeur afgeskop en van hulle besittings in hul voertuig begin laai.

Die twee kinders, wat tydens die skoolvakansie by die huis is, het in hul kamers gaan wegkruip toe die verdagtes ingebreek het.

Die seun, wat nog in die laerskool is, sy tienersuster en hul huishulp was in die huis toe die vermeende rowers hulle voordeurklokkie gelui het.

“Ons het nie die deur oopgemaak nie en hulle het seker gedink hier is niemand by die huis nie,” het een van die geskokte kinders aan Rekord gesê.

Volgens  Badenhorst het die verdagtes twee veiligheidshekke en die voordeur afgeskop voordat hulle toegang tot die huis verkry het.

Hulle het hul voertuig in die gesin se motorhuis getrek en begin om elektriese toebehore in die kattebak te laai.

Die seun, wat agter ‘n bed weggekruip het, het glo sy pa probeer bel toe een van die rowers hom sien en hom vra wat hy doen.

Sy suster het agter ‘n stoel weggekruip en die huishulp in die badkamer.

“Ons het tjoepstil gebly sodat hulle ons nie moet hoor nie,” het die kinders vertel.

Badenhorst het gesê sy was gelukkig nie vêr van die huis toe sy van die inbraak gehoor het nie. Sy het teruggejaag huis toe en met haar voertuig teen dié van die verdagtes vasgejaag in ‘n poging om hulle tussen haar voertuig en die palisadeheining langs die motorhuis vas te keer.

Die rowers het daarin geslaag om hul motor te bevry en probeer wegjaag. Sy het hulle straat-af agternagesit.

Twee verdagtes het glo vuurwapens uitgepluk en op haar gerig terwyl die ander een bestuur het.

“Ek het remme aangeslaan, gekoes en dadelik teruggejaag om te kyk of my kinders veilig is,” het ‘n getraumatiseerde Badenhorst aan Rekord gesê.

“Ek is net bly hulle het niks oorgekom nie.”

Die sekuriteitsmaatskappy en polisie is na die toneel ontbied.

In ‘n ander voorval Dinsdagmiddag het twee mans op ‘n huis in Wingatepark, óók in die ooste van Pretoria, toegeslaan.

Twee kinders, onderskeidelik 14 en 21 jaar, was by die huis toe die verdagtes hulle glo met vuurwapens aangehou en na verneem word aangerand het.

Die kinders se ma en huishulp was vermoedelik ook tydens die voorval by die huis.

Netcare-ambulansdienste se woordvoerder, Santi Steinmann, het aan Rekord gesê dat vier persone na ‘n nabygleë hospitaal geneem is. Hulle het geringe beserings opgedoen.

Die Lyttleton-polisiestasie het nie op Rekord se navrae gereageer nie.

IMG_0012 (Mobile)

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptanorth pta_mootgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
fire1
Fire scare at school