Skole kom van ver vir Affie Uitnodigingsbyeenkoms

Marzaan Loots van Afrikaans Hoër Meisieskool is as senior victrix ludorum aangewys by die Affie Uitnodigingsbyeenkoms. Sy het verskeie items gewen, maar haar beste prestasie was die 5,46m wat sy in die verspring behaal het. Dit was 929 punte op die ABSA tabel werd. Foto: GB Jordaan

Die jaarlikse Affie Uitnodigingsbyeenkoms, wat Vrydagaand op die atletiekbaan van Afrikaans Hoër Seunskool aangebied is, het uitstaande aksie opgelewer.

Die byeenkoms is weer ter nagedagtenis aan Zander Delport aangebied. Hy was ’n oud leerling van Affies wat in 2013 tragies op 15-jarige ouderdom oorlede is. Hy was ’n voormalige junior Suid-Afrikaanse kampioen in die 400m.

Spogskole uit Pretoria, die Oos-Rand, Mpumalanga en die Vrystaat het by Affies saamgetrek vir hierdie byeenkoms. Saam met Afrikaans Hoër Seuns– en Meisieskole was Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Kempton Park, Hoërskool Nelspruit en Grey Kollege almal by die byeenkoms verteenwoordig.

Die prestasies van sommige van die baanatlete het veral aandag getrek, aangesien die byeenkoms op ’n grasbaan aangebied is. In hierdie verband staan Luckey Moleyane, ’n o.14 atleet van Grey Kollege se prestasies in die naellope uit. Hy het die 200m in 23,37s afgeblits en daardeur 1022 punte op die bekende ABSA tabel verdien. Moleyane het boonop die 100m in 11,28s gewen en daarmee ook die magiese 1000 punte kerf (1022) op die ABSA tabel oortref. Hy is as die beste naelloper van die byeenkoms aangewys.

In die velditems het twee seuns die beste prestasie van die dag gelewer. Juan Oosthuizen (o.15) van Kempton Park het die diskus 54,49m ver geslinger vir 1145 punte, terwyl Carlo Brink van Affies (o.14) dieselfde hoeveelheid punte verdien het met sy poging van 47,33m in die diskus item.

Gerdus du Plessis (o.16) van Affies is as senior victor ludorum aangewys vir sy prestasies in die hekkies en as naelloper. Hy het die 200m in 22,93s gewen, terwyl hy ook in die 100m hekkies (14,72s) en 400m hekkies (55,65s) vir sy opponente hakskene gewys het.

Eric Sherman (o.17) van Affies was die beste middelafstande atleet van die dag met sy tyd van 1:58,5 minute in die 800m wat hom 914 ABSA punte besorg het.

Onder die meisies het Affies sake oorheers met vier van die beste prestasies by die byeenkoms. Helen Wessels (o.14) is as junior victrix ludorum aangewys vir haar prestasies in diskus, gewigstoot en spiesgooi, terwyl dié skool se Marzaan Loots (o.16) die senior victrix ludorum was, nadat sy goeie oorwinnings in die verspring, 100m en 200m behaal het.

Slegs een meisie kon meer as 1000 ABSA punte verdien op die byeenkoms. Christelle Grobler (o.15) van Kempton Park het die gewigstoot (14,48m en 1137 punte) en die diskus (39,41m en 1133 punte) gewen. Benewens haar het Affies se meisies die res van die trofees huistoe geneem. Zeney van der Walt (beste naelloper), Rita Bisschoff (beste spronge), Johne Aucamp (beste middelafstande) en Bea-Marie Werner (beste hekkiesatleet) het almal in die kleure van Affies deelgeneem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Affies girls do their part in the fight against cancer