Uitsig se massa-aflosbyeenkoms lok 25 skole

Die Hoërskool Uitsig se atlete het self goed presteer by die massa-aflosbyeenkoms wat verlede week deur dié skool aangebied is. Foto: GB Jordaan

Die Hoërskool Uitsig in Centurion het verlede week weer hul jaarlikse massa-aflosbyeenkoms met groot sukses op die atletiekbaan van die Universiteit van Pretoria aangebied.

Sowat 25 skole uit drie verskillende provinsies het vanjaar vir hierdie opwindende en unieke atletiekbyeenkoms ingeskryf. Atlete het so ver as Tzaneen (Hoërskool Ben Vorster), Lichtenburg (Hoërskool Lichtenburg), Potchefstroom (Potchefstroom Gimnasium) en Heidelberg (Hoër Volkskool Heidelberg) gereis om teen verskeie skole uit Gauteng (Pretoria, Johannesburg en die Oos-Rand) deel te neem.

Hierdie byeenkoms is die enigste van sy soort in Suid-Afrika en daar is net twee items waaraan al die skole deelneem. Die byeenkoms het begin met 4x400m aflosse vir seuns en meisies van alle ouderdomme (o.14 tot o.19), waarna daar afgseluit word met 4x100m afosse vir alle ouderdomsgroepe.

Die skole is verdeel in twee kategorieë. Daar was ’n groep wat bekendstaan as groot skole, terwyl die groter groep teen mekaar deelgeneem het as medium skole.

Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg is uiteindelik aangewys as die beste grootskool, maar as die seuns en dogters apart beoordeel is het Afrikaans Hoër Seuns- en Meisieskole van Pretoria koning gekraai.

Potchefstroom Gimnasium is algeheel aangewys as die beste medium skool. Dié skool uit Noordwes se seunsspan was ook die beste in hul kategorie, terwyl hul meisies die louere moes deel met Midstream College.

Een van die hoogtepunte van die dag was die stryd tussen Affies en Hoërskool Garsfontein se seuns o.19 spanne in die 4x100m aflos, die laaste item van die dag. Dié twee skole beskik vanjaar albei oor puik o.19 naellopers, maar die tweestryd om die beste span te bepaal sal binnekort by die A-bond interhoër voortgesit moet word. Die twee spanne was kop-aan-kop toe Garsfontein se atleet kort na die tweede oorgee gestruikel en geval het. Affies het uiteindelik maklik gewen, maar die tafel is gedek vir ’n reuse stryd eersdaags by die interhoër.

Die byeenkoms is besonder goed georganiseer deur Hoërskool Uitsig in samewerking met TuksAtletiek en de program het selfs vroeër as die geskeduleerde tyd klaargemaak, wat atlete van ’n nat baan gered het aangesien reën kort na die byeenkoms in Pretoria uitgesak het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Success for Tuks in Varsity Netball after years of disappointment