Pretoria Oos inwoner hardloop vir Lise

Ronel de Kock sal op 4 Maart hardloop ten bate van Lise Brink. Foto: Verskaf

Die Brink-gesin se tragedie van 16 Desember verlede jaar het mense regoor die land geraak.

’n Inwoner in die ooste van Pretoria, Ronel de Kock, het besluit om op 4 Maart aan die Medihelp Sunrise Monster-padwedloop deel te neem ten bate van Lise Brink.

Die Brink-gesin moet sowat R400 000 bymekaar maak vir ’n prostese vir haar.

“Die mediese fonds betaal slegs ’n klein gedeelte hiervan,” het die uitvoerende hoof van Solidariteit dr. Dirk Hermann, in ’n vorige berig gesê.

Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

De Kock gaan aan die 10km resies deelneem.

“Ek beoog om R5 000 in te samel deur die ‘BackaBuddy’-organisasie,” sê De Kock.

“Mense kan op die webtuiste gaan en ’n skenking maak sou hulle wou. As ’n honderd mense R5 000 insamel sal dit reeds genoeg wees.”

Sy verduidelik dat sy nie self die gesin ken nie, maar dat sy so aangegryp was deur die storie.

LEES OOK: Lise Brink sterk goed aan

“Dit was Desember, almal gaan met vakansie en dan gebeur so ’n tragedie.”

Sy sê dat sy reeds van te vore in wedlope deelgeneem het en dat dit haar stokperdjie is.

“Mens moet empatie hê. As ’n ma en vrou kan ek my vereenselwig met die hartseer storie.”

Dit is vir De Kock belangrik om te help, omdat sy besef dat die Brink-gesin die verlies van twee kinders moet verwerk.

“Mens wil nie hê dat hulle nog geldelike spanning moet hê nie.”

Lise Brink, haar man Danie en hul vyf kinders, Mieke (15), André (13), Johann (9), Rachel (8) en Daniël (2) was Desember verlede jaar in ’n motorongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke.

LEES OOK: OPVOLG: Lise Brink sal gedenkdiens bywoon

’n Band het vermoedelik gebars wat veroorsaak het dat die motor rol.

André en Rachel is op slag dood.

Lise het ernstige beserings opgedoen en haar been moes geamputeer word.

Sy het eers sowat ’n maand na die ongeluk die tragiese nuus oor haar kinders gekry.

Hermann het verlede week bevestig dat Lise uit die Unitas-hospitaal ontslaan is en oorgeplaas na die Mediclinic Muelmed-rehabilitasiesentrum waar sy sal moet leer om met een been oor die weg te kom.

’n Fonds is ook gestig om die gesin by te staan.

“Elke klein druppeltjie sal uiteindelik die emmer vol maak,” sê De Kock.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  AUTHOR
Mari Rheeder
Online Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
UPDATE: Outrage at Oscar-Reeva movie – families not consulted