Uitstaande skolerugby op Loftus Versfeld

Menlopark en Jeppe High School for Boys het met 30-elk gelykop gespeel in verlede week se Prestige Skole Rugbyfees op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan

Die Blou Bulle se tweede Prestige Skole Rugbyfees, wat verlede week op Loftus Versfeld aangebied is, het bewys dat skolerugby liefhebbers vanjaar weer hul lippe kan aflek vir puik aksie op dié vlak.

Nege wedstryde tussen die eerstespanne van 18 puik skole uit vyf verskillende provinsies is verlede Dinsdag op Loftus Versfeld afgehandel. Onder hierdie 18 skole was daar sewe plaaslike skole uit Pretoria, terwyl skole uit Limpopo, Noordwes, Vrystaat en die Noord-Kaap ook na Loftus Versfeld gereis het om aan die unieke toernooi deel te neem.

Die mees unieke aspek van die toernooi is die feit dat geen span enige punte kan aanteken met skoppe na die pale nie. Punte kan slegs met drieë aangeteken word. Daar was ook nie beperkings op die aantal plaasvervangers wat gebruik kon word nie, terwyl spelers meer as een keer in dieselfde wedstryd as plaasvervangers gebruik kon word.

Die formaat van die toernooi maak dit veral gewild weens die feit dat afrigters hul spanne se fiksheid kan toets, terwyl verskillende spelers ook die geleentheid kan kry om hul afrigters so vroeg in die seisoen te wys waartoe hulle in staat is.

Daar was ook ’n reuse geelwortel voor die neuse van al die spelers wat aan die toernooi deelgeneem het. Die seun wat as Speler van die Toernooi aangewys is, ontvang ’n kontrak van die Blou Bulle en sal hom volgende jaar by die unie se professionele junior spanne aansluit. Francois Klopper, vaskopstut van Bethlehem Voortrekker Hoërskool, was die speler wat uiteindelik dié eer te beurt geval het.

Een van die kenmerke van die toernooi was die aantal gelykop-uitslae wat aangeteken is, wat weer die invloed van stelskoppe in rugby beklemtoon het. Vier van die nege wedstryde het gelykop geëindig, terwyl daar in nog twee wedstryde slegs vyf punte verskil tussun die spanne was.

Drie plaaslike skole was by gelykop uitslae betrokke. St Alban’s College en Hoërskool Ben Vorster (Tzaneen) het met 10-elk gelykop gespeel, Hoërskool Kempton Park en Hoërskool Goudveld (Welkom) het die louere met 10-elk gedeel, Hoërskool Zwartkop en Potchefstroom Gimnasium was gelyk met 30-elk en Hoërskool Menlopark het ook gelykop gespeel (30-30) met Jeppe High School for Boys (Johannesburg).

Naelskraapse oorwinnings is gesien in die wedstryde tussen Pretoria Boys High School en Hoërskool Oos-Moot (25-20), asook Pretoria Technical High School se oorwinning teen Curro Heuwelkruin van Pietersburg (30-25).

Die laaste drie wedstryde het egter in oortuigende oorwinnings geëindig vir drie van Gauteng se top rugbyskole. Hoërskool Dr. EG Jansen (Boksburg) het Bethlehem Voortrekker met 40-10 geklop, terwyl Hoërskool Monument (Krugersdorp) met 30-10 baas was teen Welkom Gimnasium. In die hoofwedstryd het Hoërskool Garsfontein vir Diamantveld Hoërskool uit die Noord-Kaap met 25-5 geklop.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Vyf nuwe gesigte op Blou Bulle se bestuur