Garsies deur na halfeind in Tuksreeks

Garsfontein se briljante buitesenter, Diego Appollus, was dié skool se groot uitblinker in Saterdag se kwarteindstryd van die Tuks Reeks vir makro skole. Foto: Frans Lombard

Die Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het Saterdag deurgedring na die halfeindrondte van die gesogte TuksReeks  toe hulle Hoërskool Menlopark met 41-25 geklop het.

Dié twee skole se eerstespanne was saam met Hoërskool Eldoraige Pretoria se hoop om vanjaar die TuksReeks trofee vir die eerste keer sedert 2012 weer na die Jakarandastad te bring.

Eldoraigne het ongelukkig in ’n taai en spannende stryd in Nelspruit teen die Hoërskool Nelspruit met ’n enkele punt (25-26) verloor, nadat hulle twee weke gelede nog met die verdedigende kampioen, Hoërskool Momument, afgereken het.

Die wedstryd tussen Garsfontein en Menlopark het teen ’n hoë tempo afgeskop en die Bere van Garsies was binne twee minute oor die doellyn toe binnesenter Westley Thompson gaan druk het.

Menlopark het egter gou van dié terugslag herstel en hul puik losskakel en planmaker, Werner Nel, het drie minute later die bordjies verhang. Hoewel Garsfontein se linkervleuel, Johandré Scheepers, halfpad deur die eerste helfte gaan druk het, was daar teen rustyd nog bitter min te kies tussen die twee spanne. Menlo se pak voorspelers was trouens in beheer van sake en met die meerderheid balbesit het hulle die meeste van die speelwerk gedoen op daardie stadium. Hul slotte het ook die lynstane oorheers, terwyl hul twee flanke, Marcel Mombers en Wicus Janse van Rensburg, puik gekombineer het om die oorheersing voorlangs te onderstreep.

Na rustyd het Garsfontein voorlangs beter begin vaar en meer van die bal begin sien. Dit het aan buitesenter Diego Appollus die kans gegee om sy staal te wys en dié begaafde speler het die gang van die wedstryd verander met ’n puik langafstand drie kort na die begin van die tweede helfte.

Menlo het egter weer teruggeveg en Nel se tweede drie het die punteverskil verklein. Die Garsies se agterlyn, met Appollus aan die voorpunt, het daarna gereeld hul teenstanders in die lug laat gryp met hul spoed en vaardighede en halfpad deur die tweede helfte het hulle ’n gerieflike voorsprong opgebou ná drieë deur Tiaan Thysse en Gustav Meyer.

Tot Menlopark se kriediet het hulle steeds nie tou opgegooi nie, maar tot die einde bly veg. Drieë deur skrumskakel Bernard van der Linde en vleuel Dirk Thynsman het hulle terug gebring in die prentjie.

Garsfontein se hardwerkende flank, Johandré Buitendach, se welverdiende drie in die doodsnikke het egter die uitslag bo alle twyfel bepaal.

* Hoërskool Centurion was die laaste plaaslike skool wie se eerstespan dié reeks kon wen. Dit was in 2012. Die enigste ander plaaslike skool wat die eerstespan titel in die Tuksreeks kon inpalm was Waterkloof, maar die laaste keer dat hulle die trofee kon wen was in 2011.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Garsfontein maak skoonskip in Sewestoernooi