Waterkloof klop Affies in Pretoria derby

Wikus Lindeque duik oor vir een van Waterkloof se drieë teen Affies in Saterdag se plaaslike vriendskaplike derby. Foto: Leandri Lombard

Die Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan het Afrikaans Hoër Seunskool Saterdag met 24-15 geklop in die jaarlikse vriendskaplike derby tussen dié twee skole.

Met hierdie oorwinning op Affies se tuisveld het die Klofies wraak geneem vir verlede jaar se pakslae van 14-48 wat hulle by die Wit Bulle gekry het.

Klofies se oorwinning beteken ook dat die twee spanne nou elk drie keer gewen het sedert die derby in 2012 hervat is ná ’n droogte van vyf jaar waartydens die twee skole nie op die rugbyveld kragte gemeet het nie.

Die wedstryd het ook weer bewys dat plaaslike derbies tussen Makro skole baie goed is vir skolerugby. Waterkloof kon daarin slaag om hul spelpeil drasties te lig na hul nederlaag teen Helpmekaar van Johannesburg slegs ’n week tevore.

Ter versagting van Affies se saak moet natuurlik genoem word dat hulle tans hard getref is deur beserings van verskeie staatmakers, wat beteken het dat hulle beslis nie op volle sterkte was nie.

Die Klofies het nietemin puik rugby gespeel en Affies veral voorlangs goed vasgevat. Die besoekers het drie keer gaan druk, terwyl Affies net twee keer die doellyn kon haal.

* Die vriendskaplike wedstryd tussen Garsfontein en Helpmekaar, wat Saterdag op eersgenoemde se veld plaasgevind het, is naelskraaps met 28-27 deur die besoekers uit Johannesburg gewen.

Dit was van die begin af ’n titaniese stryd wat rustyd nog met 15-elk gelykop verloop het. Uiteindelik was dit twee verbroude doelskoppe van Garsfontein se skoppers wat die verskil gemaak het. Trouens, die tuisspan het vier keer gaan druk teenoor die Johannesburgers se drie drieë.

Die groot verskil tussen die twee spanne was egter Helpmekaar se briljante baljagter-flank, Mark Snyman. Dié seun, wat verlde jaar vir die SA Skole ‘A’-span uitgedraf het, was ’n monster by die afbreekpunte en hy het Garsfontein van baie momentum beroof. Hy het ’n groot toekoms in dié spesialis posisie, wat nie altyd in Suid-Afrika na waarde geskat word of ernstig genoeg benader word nie.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
UP-Tuks ensures home Varsity semi-final by beating UWC