Quins-Bobbies wen Carltonbeker in hul eerste bestaansjaar

Quins-Bobbies se spelers en bestuur vier fees nadat hulle Saterdag op Loftus Versfeld die nuwe Carltonbeker kampioen geword het. Foto: GB Jordaan

Quins-Bobbies, die nuwe klub wat aan die begin van die jaar ontstaan het na die samesmelting van Harlequins en Pretoria Polisie, is Saterdag middag op Loftus Versfeld as die nuwe Carltonbeker kampioen gekroon, nadat hulle Tukkies in die eindstryd met 17-15 geklop het.

Die wedstryd was ’n baie goeie vertoonvenster vir Bloubul klubrugby aan die einde van een van die beste seisoene vir rugby op hierdie vlak in Pretoria in baie jare.

Albei spanne het van die afskop af positiewe rugby gespeel, ten spyte van die feit dat dit ’n eindstryd was waarin die twee teenstanders besonder goed teen mekaar opgeweeg het.

Na ’n puik drie deur Quins-Bobbies se heelagter, Johan Grobler, slegs vier minute na die afskop, het ’n armdrukstryd soos min tussen die twee goed gebalanseerde spanne begin.

Hoewel Quins-Bobbies eerste punte aangeteken het, wys die statistiek dat hulle vir die grootste deel van die eerste helfte op die verdediging was. Tukkies het soms vir lang tye kamp opgeslaan in hul teenstanders se kwartgebied, maar hardnekkige verdediging deur Hendrik van der Nest en sy manne het hulle telkens verhoed om oor die doellyn te kom.

Om tot Tukkies se frustrasie by te dra kon hul gewoonlik betroubare stelskopper, Abri Reynolds, nie die telbord aan die gang kry nie. Hy het nege moontlike punte verbeur met verbroude strafdoele na die pale. Twee van hierdie skoppe was reg voor die pale en dit sou Tukkies uiteindleik duur te staan kom.

Die studente het eers vier minute voor rustyd daarin geslaag om hul rekening te open, toe hul plaasvervanger stut, Franco van den Berg, vanaf ’n lynstaanbeweging deurgestorm het vir ’n drie. Reynolds het die doelskop ook verbrou en die rustydtelling was 7-5 in Quins-Bobbies se guns.

Soos in die eerste helfte het Quins-Bobbies die tweede skof ook baie sterk begin. Hulle het vinnig momentum opgebou en veral in die vaste skrums al hoe sterker begin lyk.

Tien minute na rustyd was dit weer Quins-Bobbies wat eerste oor die doellyn kon kom. Die woelige flank, Ian van Deventer, wat weer ’n briljante wedstryd gespeel het en ’n doring in die vlees van Tukkies was by die afbreekpunte, was ook die man wat dié keer kon afrond na goeie aanvallende spel van sy spanmaats.

Na Van Deventer se drie het Quins-Bobbies nooit werklik die momentum verloor nie. Hulle het met nuwe geesdrif begin aanval en baie druk op Tukkies toegepas.

’n Strafdoel deur Andell Laubcher het die telling na 17-5 laat aangroei en dit sou ’n groot poging van Tukkies verg om terug te veg en die beker te wen. Die studente het egter baie veggees getoon en uiteindelik wel baie naby gekom om die wedstryd te beklink. Tuks het twee keer gaan druk in die laaste agt minute, maar hul skopwerk pale toe het hulle weer in die steek gelaat. Marais Schmidt, wat die skopwerk by Raynolds oorgeneem het, kon nie een van die twee drieë verdoel nie.

Tukkies het dus met swak skopwerk 15 punte verbeur en dít was uiteindelik die verskil tussen die kampioen en die strooijonker.

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Quins-Bobbies en Tuks deur na Carltonbeker eindstryd