Oopklubs oorheers ook ander eindstryde in Carltonbeker A-liga

Naka Bulle se o.21 span vier fees nadat hulle Tukkies in ’n spannende eindstryd van die Carltonbeker A-liga geklop het. Foto: Frans Lombard

’n Reuse verbetering in die kwaliteit van rugby in die Blou Bulle se junior klubligas (o.20 en o.21) is weer bewys met verlede week se eindstryde op Loftus Versfeld.

Die eindstryde van die Carltonbeker A-liga se junior spanne, sowel as die tweede- en derdespanne is Donderdagaand op Loftus Versfeld se B- en C-velde afgehandel. Dit was veral die kwaliteit van die rugby wat deur die junior spanne opgedis is, wat kenners van klubrugby opgewonde maak. Daarbenewens was dit opmerklik dat die oopklubs met al die titels weggestap het.

Vir jare het Tukkies die junior ligas oorheers, maar daardie tendens het die afgelope drie jaar begin verander en verlede Donderdag het twee sogenaamde ‘oopklubs’ met die louere weggestap as kampioene van die o.20 en o.21 ligas.

* Centurion het geskiedenis gemaak deur hul eerste junior titel in bykans ’n dekade te wen. Centurion het laas silwerware in die Blou Bulle se junior ligas gewen toe die legendariese span van die bekende afrigter, Jan Boot, die o.21 liga meer as tien jaar gelede vir drie seisoene lank oorheers het met 60 oorwinnings in 63 wedstryde.

Vanjaar het Centurion se o.20 span weer vriend en vyand verras met puik rugby, maar Tukkies was vooraf steeds die gunsteling om die eindstryd teen afrigters Tinus van Dyk, Charles Pelser en Riaan Swart se manne te wen. Centurion het egter ander planne gehad. Hulle het Tukkies veral voorlangs verras met hul inklimspel, terwyl die manne uit die suide se agterlyn lekker hardlooprugby gespeel het.

Centurion het vroeg toegeslaan met ’n drie, maar Tukkies het ’n paar minute later sake gelyk gemaak. Daarna het Centurion egter beheer oorgeneem en voor rustyd nog twee onverdoelde drieë gaan druk om die telling teen rustyd op 17-7 in hul guns te staan te bring.

Centurion het in die tweede helfte weer eerste punte aangeteken en was lank met 24-7 voor. Tukkies het probeer terugveg, maar swak dissipline het hul duur te staan gekom, veral toe een van hul slotte tien minute langs die kantlyn moes deurbring nadat hy met ’n geelkaart afgestuur is.

Tukkies het aanhou veg in laat in die wedstryd wel hul tweede drie gaan druk, maar dit was té min té laat en die jong manne van Centurion kon die vreugde smaak om as kampioen gekroon te word.

* Die eindstryd vir o.21 spanne was ’n titaniese kragmeting tussen Naka Bulle en Tukkies, wat op ’n spannende einde afgestuur het.

Nadat Naka Bulle die afgelope paar seisoene reeds aanspraakmakers op die titel was, maar dit telkens nie kon laat realiseer nie, het hulle Donderdagaand wraak geneem deur Tukkies met 21-19 te klop om as kampioen gekroon te word.

Hoewel Tukkies van die begin af tot diep in die tweede helfte voorgeloop het, was die manne uit die Moot regdeur die wedstryd kort op hul hakke op die telbord.

Naka Bulle se puik agterspeler, Ruaan Du Preez, wat eers op heelagter en later op skrumskakel diens gedoen het, was die held van die dag wat uiteindelik die verskil gemaak het met sy skitterspel. Du Preez het tien minute voor die einde die verdediging van Tukkies oopgekloof met ’n puik lopie om onder die pale oor te duik en daarna was sy span vir die eerste keer in die wedstryd voor op die telbord. ’n Strafdoel deur Tukkies se losskakel het die telling weer in die jong studente se guns laat swaai en met vyf minute se spel oor was hulle met 19-18 voor.

Du Preez het twee minute voor die eindfluitjie egter senuwees van staal getoon met ’n reuse strafdoel van sowat 52 meter, wat die oorwinning vir Naka Bulle verseker het.

* Naka Bulle se tweedespan het Donderdagaand vir dié klub nóg ’n titel besorg toe hulle Tuks se Fezelas met 28-26 geklop het in die eindstryd. Dit was ook ’n spannende stryd, maar beide spanne het opwindende rugby gespeel.

* Quins-Bobbies se derdespan het hul eweknie van Naka Bulle in die eindstryd geklop om aan dié klub ook twee titels te besorg. Quins-Bobbies se eerstespan is Saterdag as Carltonbeker kampioen gekroon.

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Goue Leeus klop Blou Bulle in Johannesburg