Sharks klop Blou Bulle op Loftus Versfeld

Die Blou Bulle het hul eerste nederlaag in vanjaar se Curriebeker toernooi gely toe die Sharks hulle Woensdagaand op Loftus Versfeld met 28-20 geklop het.

Albei spanne speel deesdae opwindende rugby en dit was dus heel voorspelbaar dat hierdie wedstryd teen ’n baie hoë tempo gespeel sou word.

Die Sharks het eerste bloed geruik toe S’bu Nkosi op regtervleul opgeduik het met genoeg spasie om Jamba Ulengo te klop vir ’n puik drie.

Hierna het die Bulle teruggeveg en die wedstryd was slegs tien minute oud toe Burger Odendaal homself deur ’n gaping gewurm het om oor te beur vir sy drie.

Teen die tyd dat die eerste kwart van die wedstryd verby was, het die pas stelselmatig rustiger geraak en die Sharks se tweede drie het gekom van meer gestruktureerde spel, toe Franco Marais ’n lynstaandryfbeweging kon afrond.

Kort voor rustyd moes die Bulle hard baklei om die Sharks van die doellyn weg te hou, veral toe Ruben van Heerden tien minute langs die veld moes deurbring nadat hy ’n teenstander gepooitjie het.

Die Bulle het egter dié rondte gewen, want die enigste punte wat in daardie tydperk aangeteken is, was die strafdoel deur Tony Jantjies, wat die rustydtelling op 13-10 in die guns van die besoekers te staan gebring het.

Na rustyd het die spelers die hoë tempo volgehou en die wedstryd was ’n skaflike skouspel tot die einde. Die Natallers het egter daarin geslaag om die Blou Bulle se momentum te versteur deur die afbreekpunte te oorheers en verskeie keer op kritieke tye besit om te keer.

Twee sagte oomblike op die verdediging het die Blou Bulle duur te staan gekom. Hulle het gebiedsvoordeel oorheers in die laaste skof, maar met dié verdedigingsblapse het hulle eers vir Lukhanyo Am en daarna vir Gath April toegelaat om maklike drieë te druk, wat uiteindelik die verskil gemaak het vir die besoekers uit Durban.

Vier drieë teen twee vertel die verhaal en die Sharks was dus welverdiende oorwinnaars.

Die Blou Bulle sal hul konsentrasie op die verdediging moet opskerp as hulle eerskomende Saterdag met die WP in Kaapstad wil afreken.

 

PUNTEMAKERS:

BLUE BULLS: 20 Drieë: Burger Odendaal, Ruben van Heerden. Doelskoppe: Tony Jantjies (2). Strafdoele: Tony Jantjies (2)

SHARKS: 28 Drieë: S’bu Nkosi, Franco Marais, Lukhanyo Am, Garth April. Doelskoppe: Garth April (1). Strafdoele: Gath April (2)

 

Skeidsregter: Quinton Immelman

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  AUTHOR
Koos Venter
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Goue Leeus klop Blou Bulle in Johannesburg