Ons faal ons kinders

Op 4 Junie is die Wêrelddag vir Onskuldige Kinderslagoffers van Geweld herdenk.

Ons word daagliks gekonfronteer deur voorvalle waarin kinders die onskuldige slagoffers word van politieke onrus (dink aan die ontvoerde meisies in Nigerië) en blootgestel word aan geweld in hul huishoudings.

Die grootste vorm van geweld en onreg teen kinders kom egter voor waar ons hulle in uiters haglike omstandighede laat leef weens armoede.

Vroeër vanjaar is ’n verslag deur die VN Kinderfonds en die SA Menseregtekommisie vrygestel wat daarop dui dat meer as 1,1 miljoen van Suid-Afrika se kinders in uiterste armoede leef. Hulle tel onder die armstes van die armes en moet met twee warm maaltye ’n week probeer oorleef.

Die nie-regeringsorganisasie, Childline, het onlangs bekendgemaak dat een uit vyf jong SA kinders onder die ouderdom van vyf in armoede lewe. Die verslag dui verder daarop dat 1,4 miljoen Suid-Afrikaanse kinders van strome en riviere afhanklik is vir water en 1,5 miljoen kinders het geen toilet in hul huise nie. Meer as 20% van skole in Suid-Afrika het geen skoon water binne loopafstand nie en 11,7% skole het geen sanitasie van enige aard nie.

Die verslag wys ’n beskuldigende vinger na diensverskaffingsprobleme en die regering se onvermoë om die lewensomstandighede van kinders in die armste gemeenskappe te verbeter. Hierdie kinders ontvang geen ondersteuning van ons gesondheid- of onderwysstelsel nie. So byvoorbeeld kan 61% van kindersterftes aan ons swak gesondheidstelsel toegeskryf word.

Ongeveer 1,2 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom woon nie skool by nie en meer as 500 000 kinders wat nou hoërskool moes bywoon, doen dit nie, omdat ouers nie die nodige skoolgeld kan bekostig nie.

Luidens die Kinderinstituut aan die Universiteit van Kaapstad sterf 10% van Suid-Afrika se kinders voor hul vyfde verjaarsdag weens armoede. Hulle het ontdek dat armoedeverligtingsprogramme, soos die kindertoelae wat die regering verskaf, ’n enorme impak op minderbevoorregte kinders en hul voogde het. Statistieke SA sê dat die toepassing van die programme dikwels die armste kinders uitsluit. Kinders sonder geboortesertifikate en voogde sonder identiteitsdokumente kwalifiseer nie vir hierdie toelaes nie.

Dit is belangrik dat die verligting van armoede nie slegs deur ekonomiese noodsaaklikheid bepaal word nie, maar ook deur mense se regte en behoeftes.

’n Beter beleid en beter programme kan ’n meer samehangende en insluitende benadering tot die verligting van armoede bied.

Die belemmering van toegang tot maatskaplike dienste se kantore, klinieke, hospitale en skole veroorsaak dikwels dat minderbevoorregte kinders se reg tot regeringshulp daardeur geaffekteer word.

Hierdie skokkende bevindinge is ’n ernstige vingerwysing na politici, opvoedkundiges, staatsdokters en verpleegsters, trouens, na die hele staatsdiens.

Die regering se ontwikkelingsagenda wat daarna streef om onderwys, gesondheidsorg en werkskepping te verbeter, loop gevaar om in duie te stort weens die onvermoë om resultate op grondvlak, waar dit regtig saak maak, te toon.

Al hierdie dinge gebeur nie net op ander plekke nie, maar is ook hier ter plaatse. Kinders van alle bevolkingsgroepe word in Pretoria gevange gehou deur armoede. ’n Mens se hart breek telkens as jy klein kindertjies, swart en wit, sien bedel met die pyn van hongerte vlak in hul ogies.

  AUTHOR
Fred Boshoff

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Garsfontein redeneer